Monday 6 August 2007

Descenso Internacional del Sella 2007

Ons het die naweek van die 3e - 5e Augustus die 71ste Descenso Internacional del Sella (uitgespreek Sejja) wedvaart in Asturias, Spanje gaan doen. Dit is 'n 20km wedvaart tussen Arriondas en Ribadesella, maar om eerlik te wees die roei is 'n bysaak. Omtrent 100 000+ mense sak op die dorpies toe vir die feestlikhede rondom die roei en daar is geen einde aan die Spanjaarde nie.

Suid Afrika

Dit was lanklaas so voordelig om van SA af te kom, ons is dikwels die skurke wat visa's moet kry om enige plek heen te gaan en ondervra word op die lughawe ens, maar met die Sella het dit vir ons getel. Ons het sonder 'n boot daar opgedaag want ons kon nie met iemand gereel kry om ons s'n te vat nie. Gaan praat toe met die organiseerder wat nie juis behulpsaam was nie totdat hy gehoor het ons is van SA, hy reel toe binne 5 minute vir ons 'n boot, ook het hulle te veel plek bespreek vir die SA span (wat regtig al die pad gekom het van SA) en so het ons lekker op 'm bed geslaap ipv om te kamp tussen al die feesgangers. Na die resies het dieselfde organiseerder ons in die ete tent gekry waarvoor ons vergeet om te bespreek, ons wou nog vra of daar kaartjies te koop is toe soek hy al vir ons oopplek aan die tafel. Suid Afrika het 3e in die span kompetisie gekom na Spanje en Hongarye wat uitstekend is as mens dink hoe ver hulle moes gekom het, ons is egter nie deel van die prestasie nie want ons het vir die BCU (British Canoe Union) geroei, die gawe organiseerder oom weet dit natuurlik nie.

Die wedvaart


Ek (Gert) roei al 13 jaar + en dit was die mees chaotiese wegspring wat ek al ooit beleef het, nie dat dit nie goed georganiseerd is nie, die aard van die rivier laat net nie toe dat dit anders sal wees nie. Die foto's hieronder sal julle dalk 'n idee gee:















Almal se spane word vasgesluit sowat 50m van die rivier af, die bote le op die wal en na die sing van die Asturias provinsiale lied word die groen lig gegee (letterlik). Die spane word dan tegelyke tyd los gemaak, almal hardloop dan vir hulle bote en kom so vinnig as moontlik op die water.
Op die water is die bote oor en onderdeur mekaar, ek is trots om te se ons het regop daar deur gekom.

Die laaste twee derdes van die afstand raak dinge rustiger, dan is die net lekker verder, klein stroomversnellings en pragtige omgewing. Duidelik ook dat die Europeers baie minder as ons SA'ers op riviere roei!



















Sidra is appel "cider" waarvoor Asturias bekend is. Daar is 'n spesifieke manier waarop dit ingegooi moet word sodat daar gas inkom. Die bottel word bo jou kop gehou en die glas so laag as moontlik, jy moet dan mooi mik om iets in jou glas te kry. Jy gooi net klein slukkies op 'n slag wat jy dan vinnig drink voor die gas weer uitgaan. Die gooiery is pret maar dit is vrek sleg, smaak na vrot appels. Selfs nugter mis die mense maar baie, so die strate en als ruik na vrot appels.















Vrydag aand is die feestlikhedein Ariondas en Saterdagaand skuif dit hoor Ribadesella toe.
Al die strate word toegemaak en mense dans oral, dit is een groot partytjie, disco ligte, "mirror balls" en wat alles word teen die gebou gehang en daar is oral musiek. Die atmosfeer is regtig ongelooflik. Selfs al roei mens nie sal ek enige iemand aanbeveel om na die Sella toe te gaan.